MEER OOR DEWALD

Dewald Wasserfall is gebore op 11 Oktober 1984 in Empangeni, Kwazulu Natal. Sy familie verhuis na Alberton waar hy in 2002 matrikuleer aan die Hoërskool Marais Viljoen. Na skool voltooi hy sy Nasionale Hoër Diploma in Vermaaklikheidstegnologie aan die destydse Technikon Pretoria. 

Musiek het egter harder geroep en in 2006 begin Dewald voltyds werk aan ’n musiekloopbaan. Hy bereik matige sukses met die groep “Wasserfall” en treffers soos “Suikerbos” en “All about me”, voordat hy in 2010 besluit om ’n solo loopbaan te volg.

“Vergeet wat jy weet van liefde”, sy eerste solo album word in 2012 uitgereik en behaal platinumverkoper-status met die treffers “Eendag as ons groot is”, “Sewentien” en “Vergeet wat jy weet van liefde”. Die album wen ook die “Beste Nuweling” toekenning by die Ghoema Musiektoekennings, sowél as die Huisgenoot Tempo toekennings.

Volg gerus vir Dewald op sosiale media:

profilenew
dewald-cutout

“Ek en Jy”, die opvolg album behaal goue status en wen die SAMA (Suid Afrikaanse Musiek Toekenning) vir “Beste kontemporêre musiek album”. Dié prestasie is een wat al jare lank op Dewald se wenslys is. Die album ontvang ook 4 Ghoema nominasies en ’n Tempo nominasie.

“Jy is die Storm”, Dewald se 3de solo album behaal ook Goue status met treffers soos “Jy is die Storm”, “Laat die lig inkom” en “Altyd jonk bly”. Dié album ontvang ook verskeie Ghoema nominasies, sowél as ’n SAMA nominasie en wen dan ook die Huisgenoot Tempo toekenning vir Beste pop album

In 2018 word Dewald gekies as een van die mentors in die gewilde TV musiekprogram “Die Kontrak”. Hy skruf ook die temalied van hierdie program, “Nuwe Begin” saam met Riana Nel

“Elektrisiteit”, Dewald se eerste album in 3 jaar, word in 2019 vrygestel en bevat reuse treffers soos die titelsnit “Elektrisiteit”, “Stop”, “So sterk soos ’n vrou” en “Sê jy sal”. Dit spog ook met ’n lewendige opname van Tom Petty se “Free Fallin’”, wat Dewald saam met Ivan Roux op “Die Kontrak” gesing het

Dewald glo daarin om nie jouself te ernstig op te neem nie. Dit is duidelik as mens sy mannewales op sosiale media dophou. Hy is ook ’n kranige reisiger en laat nooit die geleentheid verbygaan om sy tasse te pak nie

In Dewald se eie woorde :

“Party van ons maak verskonings. Die res van ons maak geskiedenis”

Dewald Wasserfall is hier om te bly.